DAAR is onlangs groot makietie op die plaas Tamboekiesvlei by Hertzog in die Katrivier gehou om die 90ste verjaardag van Minnie Moultrie van Bedford te vier.
Wat dié verjaardag merkwaardig gemaak het was dat dit saamgeval het met die 97ste verjaardag van Moultrie se ouer suster, Louisa Loots. Minnie en Louisa is saam ’n allemintige 187 jaar oud.
Die partytjie is deur Louisa se dogters gereël en daar is boekdele oor die jare toet tussen die twee susters gesels.
Die twee susters is as nooiens Swartbooi op Bedford gebore en was deel van ‘n gesin van 10 kinders.
Die 97-jarige Louisa het al drie eggenote oorleef waarvan die laaste verlede jaar oorlede is. Sy was jarelank onderwyseres en het in haar leeftyd selfs al as prinsipaal van een van die vele plaasskole in die kontrei diens gedoen.
Sy het aan Komani Karoo Express vertel dat ‘n groot hoogtepunt in haar lewe haar onlangse besoek aan Johannesburg was.
“Ek het nooit gedink dat ek op 97-jarige ouderdom vir die eerste keer in my lewe op ‘n vliegtuig sou klim nie,” sê Louisa.
Sy het erken dat sy aanvanklik senuweeagtig was, maar dat sy die ondervinding vreeslik geniet het.
Die 90-jarige Minnie woon nog op Bedford waar sy haar eie huiswerkies doen en haar oorlede dogter se kinders oppas. Sy is ook aktief betrokke in haar kerk en bedrywig met diè klein dorpie se sopkombuis.
Volgens Minnie het harde werk nog niemand in hierdie lewe se dood veroorsaak nie. Die 97-jarige Louisa het die plaaslewe verruil vir die stad en woon saam met een van haar dogters in Oos-Londen.
Be the first to comment on "Susters saam bykans twee eeue oud"